Main menu
 

Wie is ons?

iconiconicon

 

Met ons dogter gaan dit baie goed in haar nuwe skool. Ons is so dankbaar dat sy so vinnig in die koshuis en in so ‘n groot skool, soos Paarl Gimnasium aangepas het. Sy was nooit oorweldig met die “grootheid” van die skool nie. Volgens haar was die “doop” en nuwe koshuislewe die Beste! Sy het ons wildste verwagtinge oortref en sommer van dag een af haar stempel op akademiese-, sport- en kultuurgebied afgedruk. Sover het sy nog elke kwartaal ‘n posisie beklee in die Top-10 Akademiese Presteerders. Kwartaal 1 beklee sy ‘n 6de plek en Kwartaal 2 skuif sy sommer op in die 2de plek! Ook op sportgebied is sy baie betrokke. Sy was gekies vir die O/14 Top-10 netbalgroep wat tydens die Maart-vakansie gaan deelneem het aan die Klofie-netbalfees in Waterkloof. 

Sy is ook deel van die A & B netbal-oefengroep by die skool. Sy geniet steeds haar tennis en dit was heerlik om Tennis-Interskole teen haar ou Sentrummaats te speel wat in Girls High is. Soos ons van haar verwag het (“drama queen”), het sy dadelik gaan aansluit by die Dramaklub.

Ek skryf nie vandag die brief om met haar te spog nie, maar eintlik om vir julle by die Sentrum baie dankie te sê vir elkeen wat ‘n rol in haar lewe gespeel het. As dit nie vir die Sentrum se personeel was wat so toegewyd was en onderrig van die hoogste gehalte gebied het nie, sou sy nooit hierdie prestasies kon behaal nie. Omdat die klassies so klein is, kry elke kind onderrig van die hoogste gehalte, baie hegte vriendskapsbande word gevorm en die kinders kan funksioneer in ‘n veilige en ontspanne plaasomgewing. Vir die kinders voel dit soos een groot familie! Omdat daar so min kinders is, is almal betrokke en dis ‘n gewoonte wat hulle steeds uitleef in ‘n groot skool. Dis vir my wonderlik om te sien hoe betrokke sy geraak met by alles wat aangaan by die hoërskool. Sy wil niks mis nie en baie gepas is haar bynaam in Gim “Fomo” (Fear of missing out). Ek kan vandag met eerlikheid getuig dat wanneer hulle aan die einde van Graad 7 die Sentrum verlaat, hulle sterk is in hulle geloof en ook glo in hulleself. Intellektueel en emosioneel is hulle gereed om die hoërskoollewe aan te pak!

Julle by die Sentrum kan trots voel op die goeie werk wat julle doen, ek hoop regtig julle gaan van krag tot krag! Ek wens vir julle alle sterkte toe en ek glo sy sal nog gereeld kom “hallo” sê. Al is sy baie gelukkig in die hoërskool, mis sy die Sentrum nog baie en sal sy die goeie herinneringe vir altyd koester.

 

Terug na Getuigskrifte

HOS

Vendutiekraal, Hexrivier

t: 023 354 8800
e: info@hexriviersentrum.co.za